Gemenebes van Onafhanklike State

Gemenebes van Onafhanklike State (GOS)
Russiese naam: Содружество Независимых Государств (СНГ)
Tipe organisasie: Statebond
Lidmaatskap: 9 lidstate
1 newelid
1 deelnemer
Setel: Minsk, Wit-Rusland
Gestig: 21 Desember 1991
Hoof se titel: Uitvoerende sekretaris
Hoof se naam: Sergei Lebedef
Geskatte bevolking: 277 983 490
Jaar van skatting: 2008
Taal: Russies
Amptelike webtuiste: cis.minsk.by

Vlag

Emblem

Die Gemenebes van Onafhanklike State (GOS) (Russies: Содружество Независимых Государств; Sodroezjestwo Nezawisimich Gosoedarstf) is ’n streeksorganisasie wat uit voormalige republieke van die Sowjetunie bestaan.

Die organisasie is op 8 Desember 1991 deur Rusland, Belarus en Oekraïne gestig toe die leiers van die drie lande ’n ooreenkoms onderteken het oor die ontbinding van die Sowjetunie en die stigting van ’n organisasie wat as opvolger van die USSR kan dien.[1] Op 21 Desember het nog agt voormalige Sowjet-republieke aangesluit: Armenië, Azerbeidjan, Kasakstan, Kirgisië, Moldowa, Turkmenistan, Tadjikistan en Oesbekistan en die ledetal dus op elf te staan gebring.[2] Georgië het twee jaar later aangesluit, in Desember 1993, om die ledetal op twaalf te staan te bring. Die drie Baltiese state – Estland, Letland en Litaue – het besluit om nie aan te sluit nie en groter affiliasie met die Europese Unie na te streef.

Die Stigtingsooreenkoms het die hoof- konstitusienele dokument van die GOS gebly tot in Januarie 1993, toe die GOS-handves aanvaar is.[3] Daarin is bepaal dat lidlande die handves moet bekragtig (sek. 2, art. 7). Oekraïne, een van die stigterslede wat die Stigtingsooreenkoms in Desember 1991 onderteken het, het nooit die GOS-handves bekragtig nie en is dus tot vandag nog nie wetlik ’n lidland nie.[4] Turkmenistan het die status van sy lidmaatskap verander tot newelid vanaf 26 Augustus 2005 vanweë sy VN-erkende status van internasionale neutraliteit.[5][6] Georgië het die GOS op 18 Augustus 2008 ingelig dat sy parlement eenparig besluit het om sy lidmaatskap te beëindig.[7][8] Sy onttrekking het ’n jaar later van krag geword.

Die 11 huidige lidlande verskil dus in status: 9 lande het die handves bekragtig en is volle lede, een land (Turkmenistan) is ’n newelid en een land (Oekraïne) is ’n deelnemende en stigterslid, maar nie wetlik ’n lidland nie.

Die GOS is nie ’n superstaat nie, maar ’n losse konfederasie soortgelyk aan die oorspronklike Europese Gemeenskap eerder as die huidige Europese Unie. Dis egter meer as ’n simboliese organisasie, met mag op die gebied van handel, finansies, die reg en sekuriteit. Die belangrikste kwessie vir die GOS is die daarstelling van ’n volle vryhandelsgebied tussen die lidstate. Daar is ook samewerking oor demokrasie, misdaadvoorkoming oor die grense heen en die hou van vrede.

Die GOS is in Minsk, Wit-Rusland, gesetel. Die voorsitter word ’n uitvoerende sekretaris genoem en is sedert Oktober 2007 Sergei Lebedef.

  1. Ooreenkoms oor die stigting van die GOS: 3 stigterslede, 8 Desember 1991 (nie-amptelike Engelse vertaling). Russiese teks hier
  2. Alma-Ata-verklaring: 11 stem in tot die GOS, 21 Desember 1991 (Engelse vertaling). Russiese teks hier
  3. GOS-handves, 22 Januarie 1993 (nie-amptelike Engelse vertaling). Russiese teks hier
  4. Bekragtigingstatus van GOS-dokumente soos op 15 Januarie 2008 (Russies).
  5. Turkmenistan se besluit, vergadering in Kazan, Rusland, 26 Augustus 2005 (Russies).
  6. Turkmenistan verlaag status, Radio Free Europe/Radio Liberty, 29 Augustus 2005.
  7. Georgië se besluit op BBC News, 14 Augustus 2008.
  8. Verklaring oor Georgië se besluit Geargiveer 3 September 2008 op Wayback Machine, 18 Augustus 2008.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search